My hart verlang na die stilte
Van die wye wuiwende veld,
Ver van die stadsgeluide
En die klinkende klank van geld.
Ek is moeg vir die rus’lose lewe
Van mense wat kom en gaan,
‘k Wil terug na die vrye ruimtes,
Waar ’n siel in woon wat verstaan.
O, ’k sien weer die son op die velde
En die ewige blou lug bo,
En my hart skiet vol van heimwee,
Wat drome bring in my oë.
O, ek sien weer die ylblou berge,
Dààr vèr aan die westerkim,
En ’k wonder nie meer waarom weemoed
So seer uit my liedere klim;
Klim na die grys lug bo my,
Waar die son in die miste kwyn,
Want o, ek verlang na die velde,
Na die ewige sonneskyn.

